Oor ons

Die NWU ontvang meer as ’n duisend internasionale atlete per jaar.
Die Hoëprestasie-instituut vir Sport (HPI) is op die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit geleë. Potchefstroom het die voorkeuropleidingsvenue vir talle internasionale, nasionale en plaaslike sportspanne en individue geword as gevolg van die uitstekende oefengeriewe, die hoogte bo seespieël, sportmediese en sportwetenskaplike dienste, asook ons gasvryheid en goeie weer. Die HPI is ’n internasionaal-erkende multifunksionele en multidissiplinêre gerief en word as die “eenstopwinkel” vir elite hoëprestasie-atlete, asook vir sportontwikkeling beskryf.
 

Wat om te verwag

Dienste

Benewens die gewone sportmediese, afrigtings- en ander sportspesifieke dienste, het die Noordwes-Universiteit ’n Fakulteit Gesondheidswetenskappe wat verskeie kundiges op die gebied van gesondheid en welstand in diens het. Die Hoëprestasie-instituut is trots daarop om die kundigheid van hierdie kenners aan te bied. Lees verder

Geriewe

Die Noordwes-Universiteit se Hoëprestasie-instituut belê elke jaar miljoene rand in die ontwikkeling en instandhouding van sy sportgeriewe. Ons beskou ons geriewe as die beste wat daar beskikbaar is. 
Meer as 1 000 internasionale atlete van regoor die wêreld maak elke jaar vir hulle voorseisoenopleiding van die NWU se Hoëprestasie-instituut gebruik. Die feit dat Potchefstroom 1 322 meter bó seespieël geleë is, speel ook ’n belangrike rol daarin dat ons geriewe atlete se eerste keuse is wanneer hulle ’n opleidingsgerief kies. 
Ons geriewe sluit verskeie buitelug- en binnenshuise sportvelde en -geriewe in. Lees verder

Verblyf

Die Hoëprestasie-instituut kan verskeie opsies vir verblyf aanbeveel. Dit sluit in:
 
  • NWU Sports Village – Die Sports Village word as die NWU se vlagskipverblyfgerief beskou en is by die Fanie du Toit-sportgrond geleë, met verskeie sportgronde en -geriewe binne ’n 100 m-radius daarvandaan. Dit is ’n eenstopgerief, met die Hoëprestasie-instituut binne drie minute se stap vanaf die voordeur. 
  • Astrovilla bied veilige, privaat en selfsorgverblyf aan 130 gaste. Dit is langs die NWU Hokkie-akademie geleë en is binne stapafstand vanaf die NWU se Potchefstroomkampus, sportgeriewe, skole en winkels, wat Astrovilla ook die perfekte verblyfgerief vir sportgroepe maak. 
  • Dennepark bied bekostigbare en veilige koshuis-tipe verblyf aan sportgroepe, skole, kerke, en studente van ander universiteite. Daar is agt blokke waarvan elkeen 25 kamers het. Gemeenskaplike badkamers en kombuise is beskikbaar.  
 
Ons maak ook van eksterne agente gebruik om met dienste te help, soos alternatiewe verblyf, vervoer (na die lughawe en plaaslik), maaltye, ens. 

Vervoer

Ons reël plaaslike vervoer vir buitelandse atlete, asook vanaf Potchefstroom na die OR Tambo-lughawe.